Nicolene van der Merwe, ’n gr. 9-leerling van Hoërskool Hermanus, is Julie se Hermanus Times Supersport Let’s Play sportster van die maand.
Nicolene is ’n uitblinker en een van die mees belowende jong sportsterre van die Hoërskool.
Sy speel sedert verlede jaar vir die skool se eerste tennisspan en het Boland o.16 verteenwoordig teen WP vanjaar in Maart. Nicolene is ook gekies vir die o.15 Boland Platteland tennisspan.
“Sy is ’n baie toegewyde en hardwerkende atleet, en benewens haar tennis prestasies speel sy ook eerstespan hokkie. Sy is onlangs gekies vir die Boland o.16 Pinotage-hokkiespan en het deelgeneem aan die interprovinsiale toernooi in Bloemfontein,” het Mikki Milne, sportorganiseerder van Hoërskool Hermanus, vertel.
) Om ’n sportster te benoem vir Augustus, moet verteenwoordigers van skole hul motivering (150 woorde) voor 1 September stuur na Cilene Bekker by cilene@hermanustimes.co.za of dit pos na Hermanus Times Sport, Posbus 96, Hermanus, 7200.
Net skole kan leerlinge benoem. Die maandelikse finaliste sal in aanmerking kom vir die Hermanus Times Supersport sportster van die jaar.